Rupert Bosch

Rupert Bosch is ‘n man wat ‘n deeglike studie van die gholfswaai gemaak het toe hy hierdie spel begin beoefen het.  In vandeesweek se rubriek val die kollig op Rupert en vertel hy onder meer hoekom hy so ‘n klein ruspose op die top-punt van sy terugswaai het.

Vraag:  Vertel vir ons waar was jy op skool en watter sportsoorte het jy as skoolseun beoefen?
Bosch:  As leerling aan die Hoërskool Luckhoff op Stellenbosch was ek veral lief vir fietsry en het ook tafeltennis gespeel.

Vraag:  Hoe oud was jy toe jy aan gholf bekend gestel is en wie het jou aan die spel bekend gestel?
Bosch:  Ek was 39 jaar oud toe ek en ‘n paar maats ‘n klompie balle op die oefenbof gaan slaan het – die gholfgogga het my dadelik gebyt!   Ek het eers by die Old Mutual Gholfklub (my voormalige werkgewer) aangesluit en op die Mupine ‘mashie’ baan gespeel.  Kort hierna het Stellenbosch Gholfklub sy “deure” oopgemaak vir “anderkleuriges.”. Ek het saam met manne soos Basil Muller, Gilmour Hendrickse en andere aangesluit as 6-dag lede (die enigste opsie daardie tyd).  Binne ‘n jaar het ek ‘n skriftelike versoek ingehandig vir vol lidmaatskap wat toe aan ons almal toegestaan is.

Vraag:  Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch Gholfklub?
Bosch: Ek is sedert 1989 lid by Stellenbosch Gholfklub en het in 2002 lewenslange lidmaatskap gekoop.

Vraag:  Met watter lede van die Stellenbosch-klub het jy as nuwe lid gereeld saam gespeel en het jy sommer gou tuis gevoel by die Stellenbosch-klub?
Bosch:  Ek het gereeld met Basil Muller, Gilmour Hendrickse, Gordon Schultz, Clive Wagner en Piet van Rooy  gespeel - om net ‘n paar name te noem.  Later het ek ook gereeld in die Sondagskool begin speel en daar kennis gemaak met manne soos  Duimpie Bayly, Johan Wiid en Tony Gordon. Ek het onmiddellik tuis gevoel en later as Komiteelid ‘n nog wyer vriendekring by die gholfklub opgebou.

Vraag:  Gholf is nogals ‘n moeilike spel – het jy jouself geleer of het jy vir lesse gegaan?
Bosch:  Ek is tegnies van aard en het gou-gou vir my ‘n heel paar gholfinstruksie-boeke aangeskaf .  Ek het ook ‘n video-opnemer (met ‘n “slow motion” funksie) aangeskaf om die gholfswaai in fyner detail te bestudeer – nou weet almal waar my stadige terugswaai en rusperiode aan die bopunt van die swaai kom!  Ek het net een keer gegaan vir ‘n gholfles.  “n Ander insident oor hierdie onderwerp  wat ek goed kan onthou is dat Arnold Mentz (voormalige PGA beroepslid by die Stellenbosch Klub) het op die agtste bof aan my gesê, dat ek die bal goed slaan, maar ek moet asseblief nie na hom kom vir lesse!
 
Vraag:  Speel jy gereeld saam met die senior groep op Maandae en geniet jy dit baie?
Bosch:  Ek speel Dinsdae saam met Sakkie de Klerk se groep en Woensdae en Saterdae in die kompetisie asook twee Donderdae per maand met die Boland Sages.  Ek is goed bevriend met die manne wat Maandae speel.  Ek betaal vir onbeperkte gholfrondes – vraag is net, is 5 dae gholf per week te veel?  Sal nog daaroor moet dink…
 
Vraag:  Watter aspek van gholf vind jy die moeilikste: dryfwerk; ysterspel, kortspel of setwerk en gee jou redes asb.
Bosch: My kortspel is my sterkpunt. Ek het 4 wigysters in my gholfsak en gebruik hulle met selfvertroue.  Ek kan goed set by tye. Goeie tempo met die setyster help baie dink ek. Ek dryf die bal redelik reguit en lank vir my fisieke grootte en ouderdom. Ysterspel is my swakpunt. Miskien moet ek wegdoen met my Mizuno MP30 ysters. Hierdie is pragtige ‘semi-blade’ ysters met n sagte gevoel, maar is nie baie vergewinsgesind nie, maar gholf is mos ‘n  uitdaging en  is nie veronderstel om maklik te wees nie!
 
Vraag:  Watter putjie vind jy die moeilikste op die baan en gee jou redes hoekom?
Bosch:  Vir my is putjie nommer 11 die moeilikste.  Die rede daarvoor is dit verg ‘n baie akkurate bofhou vir diegene  wat nie bo-oor die bome kan slaan nie.  ‘n Verdere faktor is dat die dik ruveld langs die groot boom by die skoonveld belemmer ‘n goeie dryfhou.  Nommer 11 het ook ‘n baie moeilike setperk en sethoue draai baie skerp.  Die setperk word ook beskerm deur ‘n sandkuil links en groot boom regs.   Vroeër jare was putjie 11 ‘n enksyfer “stroke” en ek meen putjies 11 en 15 se “strokes” moet omgeruil word. 
Vraag:   Is daar enige veranderinge aan die baan wat jy graag sou wil sien of is jy gelukkig met die uitleg soos tans?
Bosch: Ek hou van die uitleg. Die sesde bof is waarskynlik te na aan die vyfde setperk. Dit kan soms luidrugtig raak. Spelers kla oor die sandkuile. Ek het my tegniek met die sandyster verander en kry nou beter resultate.  Die nuwe bome raak al hoe meer ‘n  faktor vir houe vanuit die ruveld  soos dit hoort.
 
Vraag:  As jy gholf speel spandeer jy meer as 4 ure saam met jou maats of spelers wat jy nog nooit ontmoet het nie.  Wat is die eienskappe wat jou beindruk van goeie gholfmaats?
Bosch:  Gholfmaats moet gemaklik en bedagsaam op die baan met mekaar omgaan en dis belangrik dat almal goeie gholf-etiket handhaaf en die gholfreëls korrek toepas.  Ook meen ek dit is belangrik om nooit jou humeur op die baan te verloor nie.

Vraag:  Vind jy die baan die syfer 5’s moeiliker as die syfer 3’s – indien wel – gee asb jou redes?
Bosch: Die syfer 3’s op Stellenbosch is nie besonder lank nie, en daar kom ook nie waterhindernisse in spel soos by sommige ander gholfbane nie.  Die syfer 5’s reken ek is moeiliker met water by die 12de setperk, bome by 14, sandkuile by 5 en die wingerd en bos by 8 (Snakes and Grapes).
 
Vraag:  Watter ander bane wat jy al gespeel het, het groot indruk by jou gemaak?
Bosch:  Bane met mooi uitsigte soos Simola, Pinnacle Point en Prince’s Grant.  Uitdagende bane soos  Cape St Francis, Wild Coast Sun, Sun City.
 
Vraag:  Jy speel ook gereeld in die groep spelers wat Annalise Kotze organiseer.   Is dit ‘n lekker groep en wie is die manne wat gereeld jul geld vat in hierdie groep?
Bosch: Dit is ‘n  lekker groep senior spelers.  Annalise doen die trekking op ‘n rotasie-basis en daar is ‘n standaard beterbal-weddenskap in die 4-bal (pensionaris pakket!!). Daar is geen gereelde wenners nie – die rotasie-sisteem is daarvoor verantwoordelik. Nogmaals verskyn lede van die groep dikwels onder die prys-wenners tydens klubkompetisies. Dit het seker iets te doen met gereeld gholf speel op Stellenbosch.
 
Vraag:  Laagste bruto telling wat jy al op Stellenbosch gespeel het?
Bosch My laagste bruto telling is 1 onder baansyfer vanaf ‘n 10-voorgee!
 
Vraag:  Laagste voorgee ooit?
Bosch: My laagste voorgee is 6 (Maart 2015)
 
Vraag:  Huidige voorgee?
Bosch:  My huidige voorgee is 13. Na ‘n ligte skouerbesering in Februarie 2016 het ek begin uitskuif vanaf  ‘n 8-voorgee. Die skouer herstel goed, so die gholf sal gou weer verbeter
 
Vraag:  Vertel vir ons wat beteken dit vir jou om gholf te kan speel?
Bosch:  Ek speel nooit alleen gholf nie.  Ek geniet die dag op die gholfbaan met my maats, ongeag die resultaat.   Elke hou is ‘n uitdaging met ‘n element van onvoorspelbaarheid, wat hierdie sport so uniek maak.