‘n Uitsonderlike sportvrou en ‘n gemeenskapsmens. Dit is twee van die uitstaande eienskappe van Lauretta Maree, jarelange lid van die Stellenbosch-klub.
Maree was ‘n Springbok-hokkiespeler en was ook later Burgemeester van Stellenbosch.
Hierso is my onderhoud met haar:
Vraag: Watter sportsoorte het op jy skool beoefen?
Maree: Op skool het ek hoofsaaklik atletiek beoefen, en natuurlik hokkie.
Vraag: Jy het as hokkiespeler verskeie mypale bereik. Vertel ons meer daarvan.
Maree: Op skool was hokkie my groot liefde en het op skool in Pietermaritzburg reeds vir die Natal-skolehokkiespan gespeel. Op Maties het ek die WP-span gehaal en is ook gekies vir die Gekombineerde Universiteite-span.
Na my studies op Stellenbosch is ek terug na Natal waar ek begin skoolhou het en het vir Natal se provinsiale span hokkie gespeel. In 1964/65 het die groot eer my te beurt geval toe ek vir die SA hokkiespan gekies is om oorsee te gaan speel (dit was in daardie jare voordat die sportboikot SA spanne verhinder het om in die buiteland te speel!). Ons het in Europa gaan toer en ‘n hoogtepunt was ons sege van 3-1 oor die Engeland-span in die Wembley-stadion.
Vraag: Hoe oud was jy die eerste keer toe jy aan gholf bekend gestel is en wie het jou aan die spel bekend gestel?
Maree: Ek het eers begin gholf speel nadat ek getroud is.
Vraag: Wat het jou in die begin aangetrek tot die spel gholf?
Maree: Ons het op Dundee gewoon, waar daar baie gawe en goeie gholfspelers was en ons aangemoedig het om te speel.
Vraag: Het jy vir gholflesse gegaan of het jy jouself geleer?
Maree: Ek was aangetrokke tot gholf omdat dit ‘n nuwe uitdaging was. By die Dundee-gholfklub was daar mense wat met afrigting gehelp het, maar ek het ook van tyd tot tyd lesse gehad.
Vraag: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-klub?
Maree: Ek het in 1994 lid by Stellenbosch-gholfklub geword. Toe ek in 1994 in Stellenbosch kom woon het, het ek na ‘n onderbreking van bykans 15 jaar weer begin gholf speel. Ek moes weer van vooraf ‘n voorgee kry. Op Dundee was ek nooit laer as ‘n 12/13-voorgee nie, en op Stellenbosch het ek redelik gou weer daar vasgehaak!
Vraag: Jy het ook ‘n groot bydrae gelewer op komiteevlak tot vrouegholf op Stellenbosch asook die Boland. Vertel ons meer daarvan.
Maree: Ek was van 1996 op die Dameskomitee by die Stellenbosch-klub en in 1999/2000 die Dameskaptein. In 2000/2001 was ek President van Boland Dames Gholfvereniging.
Vraag: Met wie het jy gereeld op Stellenbosch gespeel nadat jy jou op Stellenbosch gevestig het?
Maree: Ek vir ‘n lang tyd ligagholf gespeel en het baie saam met Annalise Kotze gespeel. Annalise was vir my ‘n goeie rolmodel van ‘n gholfspeler met goeie toewyding, konsentrasie asook aangename gholf-etiket.
Vraag: Later was jy ook lid van die Stellenbosch Stadsraad - het jy in daardie jare darem tyd gehad vir gholf?
Maree: Ek was van 2000 tot vanjaar (ek tree uit met die verkiesing op 3 Augustus) lid van die Stadsraad - 16 jaar is ‘n lang tyd, en ja, daar was tye wat ek ek baie min kon speel, veral vanaf 2006 – 2008 toe ek Burgemeester was.
Vraag: Die vroue-afdeling by die klub het sterk gegroei die laaste jare - wie was die vroue wat 'n groot rol gespeel het in die groei van vroue-gholf by die klub?
Maree: Dit was vir my al die jare baie lekker om lid te kon wees van die Stellenbosch-vroue-afdeling. Vanaf 2000 se kant het daar ‘n hele klompie jonger vroue (almal is bekwame, vrolike mense) aangesluit by die klub. Hierdie groep het later baie bekwame vrouekapteins opgelewer en ek wil graag vir Lol Jones, Lente Botha, Charlene Theunissen, Linda Harris en Dot Foster uitsonder vir hul geesdrif en leiding. Die groot krag van vrouegholf by die Stellenbosch-klub is egter die kombinasie van die totale groep lede in geheel.
Vraag: Jou gunsteling-gholfbaan?
Maree: Ons het al almal op ander wonderlike en bekende gholfbane gespeel, en hierdie bane slaan altyd my asem weg, maar Stellenbosch bly my gunsteling-baan!
Vraag: Enige baanveranderinge wat jy graag sou wil sien?
Maree: Die 5de putjie raak nou vir my baie lank (my voorgee is tans 23 – “going on” 30!). Ek sal ook nie omgee as die groot boom links voor die 14de setperk ook maar eendag omwaai nie!
Vraag: Sterkpunte van die gholfklub?
Maree: Die kwaliteit van ons pragtige baan; die verbeterde fasiliteite en uitstekende algemene bestuur van alle aspekte, dra alles by tot die gelukkige lede en besoekers!
Vraag: Wat beteken gholf vir jou as mens?
Maree: Ek is baie dankbaar om nog gholf te kan speel en gebruik elke moontlike kans om dit te doen. Nogtans is ek toenemend gefrustreerd met my gholf. Ek is nie ‘n natuurlike speler nie - dink heeltemal te veel op die baan! Ek is kompeterend, ongeduldig met myself en wil nie my maats in die steek laat nie. Dit bly mos maar moeilik om nie “ain’t what I used to be”, te wees nie!!