Jaco Laubscher

Vraag:  Hoe oud was jy toe jy aan gholf bekend gestel was?
Laubscher:  Op 10-jarige ouderdom het ek, Jan Durand en Ockie Basson in die Bassons se agterplaas  “gholftoernooie'” gespeel met 'n ou 1-houtdrywer, 'n tennisbal en self-gemaakte putjies met vlaggies. Die wenner het dikwels 'n sjokolade of 'n blikkie Coke gewen

Vraag:  Wie het jou aan gholf bekend gestel?
Laubscher:  Pa Willem was natuurlik 'n fanatiese gholfspeler (sy voorgee was nooit beter as 14 nie) en hy het seker die saadjie geplant wanneer ek balle opgetel het wanneer hy geoefen het.

Vraag:  Het jy jouself geleer of het jy afrigting by iemand ontvang?
Laubscher:  Pa Willem het my aanvanklik touwys gemaak, maar eintlik het ek eers op ongeveer 25 jaar my eerste les gehad. Tydens my huisdokterjaar op Empangeni het die klubpro daar my eendag gesien op die oefenbof terwyl al my houe regs van die teiken eindig, met 'n slice. Hy het my geleer om met die regte gewrigsaksie die bal reguit of met 'n draw te slaan. Halleluja! My tweede les was by 'n PGA-beroepspeler in Bloemfontein waar ek 'n week moes bly tydens my finale spesialiseksamen. Hy het my geleer om my bene te gebruik in die swaai. En danksy sy wenke het ek 30 meter ekstra afstand gekry.  Tydens 'n fase van 12 maande waar ek ten minste die helfte van my bofhoue “gesnap-hook” het, leer Nigel Burch (PGA-afrigter) my die korrekte balposisie t.o.v. my oë (ek het te ver oor die bal geleun) en dit was die einde van die “snap-hook”. Vroeër in hierdie jaar speel ek 'n ronde saam met Philip Sanderson (voormalige beroepspeler op die Sonskynreks) en wat 'n plesier was dit nie! Philip maak 'n klein verstelling aan my “stance” (sy voorstel was dat ek met my voete baie naby aanmekaar moet staan) en ek teken ‘n bruto-telling van 74!  Vriend Louis (Destroo)  probeer ook help natuurlik en hy het omtrent soveel sukses met my gholf as wat ek met sy gesondheid het (LOL).
 
Vraag:  Baie jong spelers het ‘n rolmodel (soos ‘n Jack Nicklaus, Seve Ballesteros) gehad op hulle, hul spel skoei.  Het jy ook ‘n rolmodel gehad en hoekom was hierdie gholfspeler vir jou ‘n rolmodel?
Laubscher:  As ek nou terugdink het Fred Couples met sy kalm geaardheid en rustige gholfswaai  my die meeste beindruk.

Vraag: Wat was jou hoof-sportsoort op skool en hoeveel sukses het jy daarin behaal.
Laubscher:  Ek het op skool vir Paul Roos se eerste krieketspan gespeel en vir die skool se B-gholfspan.
 
Vraag:  As ‘n jong (junior) speler by die Stellenbosch-klub – wie was die lede wat jou laat tuis voel het en wat vir jou as jongeling baie beteken het?
Laubscher:  Duimpie Bayly was nog altyd 'n lid wat jou werklik baie tuis laat voel het en ek kan hom uitsonder. Van die ouer manne soos Koos de Waal, Oom Johan (Laubscher) en Gys Steyn kom ook na vore.

Vraag:  Het jy by enige van die klublede meer geleer hoe om die moeilike spel gholf baas te raak? 
Laubscher:  Ek dink nog hieroor. Maar daar was ouens wat my soms gehelp het van die wal tot in die sloot!

Vraag:  Wat is jou laagste bruto telling wat jy al op Stellenbosch gespeel het?
Laubscher:  72
 
Vraag:  Wat was jou laagste voorgee ooit?
Laubscher:  5 (vir 2 weke)
 
Vraag:  Wat is jou huidige voorgee?
Laubscher: 7

Vraag:  Jy en die direkteur van gholf by die Stellenbosch-klub, Louis Destroo is nou al vir ‘n hele paar jaar gholfmaats.  Hoe het dit gekom dat julle gholfmaats geword het?
Laubscher:  Uit die aard van my werk bespreek ek dikwels baie laat vir 'n spel op Woensdae. Louis is in baie dieselfde posisie. Uit die aard daarvan het ons dikwels saam begin speel en goeie vriende geraak. Ek dink ons albei het ook 'n baie ontspanne benadering tot gholf en dit dra baie daartoe by om die middag se spel  werklik 'n groot genot te maak.

Vraag:   Wat is van die hoogtepunte wat jy en Louis al beleef het op die gholfbaan?
Laubscher:  Ons het Stellenbosch-gholfklub se eerste  “Spring Cup-toernooi” met 'n rekordtelling gewen. Die meeste gholfspelers sal ‘n nederlaag nie as juis iets besonders beskou nie, maar ek meen tog my en Louis se wedstryd verlede jaar in die “Winter Knock Out-toernooi” was glad nie te sleg nie (dit was terloops die eerste keer dat ek aan die “Winter Knock Out” deelgeneem het).  Nadat ons vir Cas en Jack ‘n 40 houe-voorsprong moes gee (volgens voorgeë) verloor ons slegs 2 af!

Vraag:  Wie is jou en Louis se moeilikste teenstanders by die Stellenbosch-klub?
Laubscher:  Behalwe Cas Potgieter en Jack Thirion,  die ouens saam met ons op die eerste bof.
 
Vraag:   Jy is iemand wat nie sommer van toerusting verander nie en jy gebruik al jare dieselfde ysters asook dryfstok?  Is jy ‘n tradisionalis of hou jy eenvoudig van jou stokke?
Laubscher:  Ek hou van waarde vir geld en ek het baie vroeg reeds besef dat dit gaan in gholf oor die ' Indian and not the Arrow'. Ek kan nie eintlik sien dat nuwe toerusting my noodwendig 'n beter speler sal maak nie en dit is asof ek na al die jare presies weet wat om van 'n spesifieke stok te verwag. 'n Swak swaai lei ongelukkig tot 'n swak hou, afgesien van hoe nuut of hoe duur die stok is. In my geaardheid is ek  ook  nogals ‘n tradisionalis.
 
Vraag:    En vir die rekord – vertel ons watter stokke sal ons tans in jou sak vind:  vanaf die drywer tot die setstok.
Laubscher:  Titleist 983K 9.5 grade drywer (dink hy is nog wettig), Orlimar 16 grade 3-hout, Cleveland 18 grade “driving iron,” Calaway X-14 ysters (4-P), Cleveland 54 grade en 60 grade wigysters, Ping Wolverine setstok. Ek het 18 jaar lank geset met 'n Tommy Armour Zaap-setstok, tot hy gebreek het (per ongeluk). 

Vraag:  Wat is jou gunsteling putjie op die baan en gee jou redes asb.
Laubscher:  Putjie no 1. Dis 'n moeilike, lang, syfer 4 wat 2 baie goeie houe verg om op die setperk te eindig en ek het dit 10 jaar gelede reggekry om ‘n arend 2 daar aan te teken - drywer en 7 yster. Ek het die dag saam met Bones Nagel en Clive Roberts van De Zalze gespeel. Dit is sover die enigste syfer 4 waar ek ‘n arend kon aanteken. 

Vraag:  Is daar enige baanveranderinge wat jy graag sou wil sien by die Stellenbosch-klub en gee besonderhede asb.
Laubscher:  Ek sou graag die 9de putjie se bof wou verander sodat ‘n mens ten minste die setperk kan sien. Ek voel ook sterk daaroor om deurlopend te poog om die boomreikheid van die ou Stellenbosch-baan terug te kry.

Vraag:  Het jy al ‘n kolhou behaal?  Indien wel – by watter putjie; watter jaar en wie was speelmaats?
Laubscher:  Ja dit was op Stellenbosch se 7de putjie in 2002.  Dit was gedurende ‘n Woensdagmiddag-kompetisie en Piet Dekker en Marnus Raath was onder my speelmaats.  Daardie aand (so 22h00 se kant) was ek al een oor in die kroeg……!!
 
Vraag:   Watter humoristiese oomblikke by die Stellenbosch-klub staan uit by jou?
Laubscher:  Niki Bosman wat 'My Way' sing oor die luidsprekerstelsel laataand na die eerste Beyerskloofdag, vanaf die vloer, kort nadat hy van die tafel afgeval het. Vivian wat karaoke sing saam met die DJ na die eerste Spring Cup. Ek en Louis klop Jack en Rimon met 17 “units” - een van daai dae! Duimpie Bayly met 'n knertsie op die 5de se bof tydens die  “Sunday School”. Charl Bergh se yips....ens ens.
 
Vraag:  Jy is ‘n man wat ‘n veeleisende beroep beoefen en jou “vrye tyd” moet vir jou belangrik wees.  Wat beteken gholf vir jou?
Laubscher:  Vanaf die eerste dag wat ek begin werk het op Stellenbosch in Julie 1997, het ek myself die luuksheid gegun om Woensdagmiddae te ontspan en golf te speel. Die verwagtinge en druk van geneeskunde is veeleisend en ek is van mening dat dit vir enige geneesheer baie belangrik is om 'n blaaskans te neem deur die loop van 'n besige week om gemotiveerd en vars te bly. Ek onthou een jaar spesifiek moes prof. Boet van Rensburg die woord spreek by die eedaflegging van daardie jaar se finalejaar medici. Die gebruik was dat die spreker die titel van sy toespraak moes deurgee aan die dekaan voor die tyd vir goedkeuring. Prof Boet se titel was: “Die dokter moet gholf speel.” Hy het onmiddellik hewige teenkanting gehad teen die onderwerp, maar Boet het voet by stuk gehou en gedreig om nie te praat nie. Die dekaan het ingegee en Boet het gepraat. Die punt van sy toespraak was: Die dokter mag homself nooit so belangrik ag dat hy homself as onmisbaar in sy praktyk sien nie en dat aftyd vir ontspanning baie nodig is vir 'n langtermyn suksesvolle praktykvoering. Al die studente, betrokke ouers en die dekaan het met groot waardering kennis geneem van sy wyse raad. 
Die gholfbaan is ook die enigste plek waar ek nie bereikbaar is nie en dit hoort ook so.
 
Vraag: Jy is ook ‘n man wat ‘n glasie lekker wyn waardeer.    Watter wyne by die Stellenbosch-klub is gunstelinge by jou?
Laubscher:   Witwyn, rooiwyn en brandewyn. Ha ha ha...!