In Die Skroewe met Liesbet Rall

Liesbet Rall is een van die vrouelede wat  gereeld saam met haar man Philip in kompetisies speel.  Liesbet kom uit ‘n bekende gholf-gesin want haar pa was vir baie jare ‘n staatmaker by die klub en het ook gedien as klubkaptein van Stellenbosch. Hierso volg my volledige onderhoud met haar.

VRAAG:  Hoe is jy aan gholf bekend gestel?

RALL: My pa het gholf gespeel by die Stellenbosch-klub. Alhoewel ek toe nog baie klein was, was ons gesin deel daarvan en het ons gereeld Sondae uitgery gholfklub toe vir ‘n koeldrank en grondboontjies. Later van tyd het my man, Philip, ook begin gholf speel, waar ek ook verdere blootstelling gekry het. Ek was toe in my dertigs en het op daardie stadium nog baie aktief tennis gespeel.


VRAAG: Jou pa, prof. Willem Kempen was 'n geesdriftige gholfspeler wat vir baie jare ook gedien het op die komitee - het hy ooit sy gholfstories met julle as kinders gedeel?

RALL: Ek was eintlik te klein om te onthou of my pa ooit  gholfstories by die huis gepraat het. Wat ek wel onthou, was die snoekkoppe wat hy Saterdae na gholf huis toe gebring het. My ma moes dit in die oond bak.


VRAAG: Aan watter sportsoorte het jy op Bloemhof deelgeneem?

Rall: Tennis en hokkie.


VRAAG: Wanneer het jy vir die eerste keer op die Stellenbosch-gholfbaan gespeel en kan jy onthou wie het saam met jou gespeel?

RALL: Gedurende 2000 saam met Mareta Loubser. Ons het elke moontlike geleentheid gebruik om te speel. Ons was baie kompeterend en het nie eens ‘n 6 duim-sethou gegee nie - jy moes uit “putt”! Ek kan nog onthou dat ons een keer op die baan verdwaal het en twee studente moes vra waar ons is!


VRAAG: Was dit moeilik in daardie jare om vrouestokke in die hande te kry en het jy soms met jou Pa se stokke gespeel?

RALL: Toe ek begin speel het, was dit glad nie meer moeilik om vroue-stokke te kry nie. Nooit met my pa se stokke gespeel nie: stokke te oud!


VRAAG: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-klub?

RALL: Ek het lid geword op 1 Junie 2001.


VRAAG: Daar het die afgelope jare 'n sterk groei in getalle plaasgevind onder die vrouespelers by die klub - wat meen jy is die redes daarvoor?

RALL: Ek dink die hele atmosfeer by die vroue-afdeling, die gees en gemoedelikheid, die gesonde kompetisie en die aanvaarding van oud en jonk, dra by tot die lekker gees. Die manier hoe nuwe lede verwelkom word, asook die deel van lief en leed, is alles bydraend dat vroue wil aansluit en deel word.  Ek dink ook ons goeie vroue-kapteins oor die jare het ‘n rol gespeel rakende die getalle-groei asook die gees van die klub.


VRAAG: Watter gholfdae op die kalender-jaar vir vroue-lede is vir jou hoogtepunte?

RALL: Hoogtepunte op die kalender is verseker ons jaarlikse Dames Gholf Opedae, Klub-kampioenskappe en ons maandelikse dames gemeng op Sondae (“ mixed”) Ek geniet ook “Nikki’s Trophy Foursomes”!


VRAAG: Het die vrouelede ook weddenskappe onder mekaar wanneer hulle Dinsdae kompetisie speel?

RALL: Ja, verseker het ons onderlinge weddenskappe, maar nie onder al die vrouelede nie.


VRAAG: Wie is die moeilikste opponente onder die vroue?

RALL: Die moeilikste opponente op die baan vir my is diegene wat baie kompeterend is, want dan moet jy vir 18 gate konsentreer! Maar ek hou van gesonde kompetisie.


VRAAG: Watter putjie op Stellenbosch is vir jou die mees uitdagende en hoekom ervaar jy dit so?

RALL:  Die 5de is vir my die moeilikste putjie. Vir my is die hou na die setperk toe lank en die setperk word aan alle kante beskerm deur water regs en sandkuile links en regs - hierdie putjie smokkel met jou kop!


VRAAG: Jou man Philip is ook lid van die gholfklub en julle speel gereeld saam.  Wat maak van julle 'n goeie kombinasie op die gholfbaan?

RALL: Ek dink ons is ‘n goeie kombinasie en speel lekker saam! Mits ons nie vir mekaar preek op die baan nie of lesse gee nie of sê hoe om te “ putt” nie. Maar ons ken mekaar al goed op die baan!


VRAAG: Watter ander gholfbane is gunstelinge by jou?

RALL: My gunsteling gholfbane is Fancourt se twee (Outeniqua en Montagu) en Plettenbergbaai. Geniet ook Swellendam en Stilbaai!


VRAAG: Laagste telling ooit gespeel op Stellenbosch?

RALL: Laagste telling ooit op Stellenbosch was 89.


VRAAG: Laagste voorgee ooit?

RALL: Ek dink 20.


VRAAG: Huidige voorgee?

RALL: Huidige voorgee is 22.


VRAAG: Het jy al 'n kolhou behaal?

RALL: Ja, ek het al ‘n kolhou geslaan op Fancourt: Outeniqua-baan op die 7de putjie.


VRAAG: Gunsteling pizza by die klub?

RALL: My gunsteling pizza is die SGC met avokadopeer.


VRAAG: Gedurende hierdie "inperk-periode" - wat doen jy om fiks te bly?  En swaai jy soms die gholfstok in die tuin of voor die spieël?

RALL: Gedurende die “ inperkingstyd” doen ek bietjie oefeninge en stap op die “ treadmill”. Maar dis nie my sterk punt nie. Ek stap liewer agter ‘n gholfbal aan! Bietjie “ chips” op die grasperk, maar definitief niks voor ‘n spieël nie.


VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?

RALL: Gholf beteken vir my baie. Vriende is vir my belangrik en om saam met hulle gholf te speel is ‘n bonus. Ook om nuwe vriende te maak deur gholf en die lief en leed asook verjaarsdae te deel. Ek en Philip deel dieselfde belangstelling en kan lekker oor gholf gesels omdat ons die spel ken. En ook lekker saam gholf kyk. Laastens - die kelners en kelnerinne se vriendelikheid by die gholfklub is vir my baie lekker.