IN DIE SKROEWE DEUR RIAAN GERBER

IN GESPREK MET NIEL HOOGENHOUT 

Soos baie pa’s het Daan Hoogenhout vir sy jong seun Niel aan gholf bekend gestel.  Eers het Niel sy pa se gholfkarretjie getrek en later as 13-jarige Paul Roos-skolier het Niel begin om gholf te speel – hy was waarskynlik ook die eerste skolier wat in ‘n klubkompetisie op ‘n Saterdag gespeel het! 

Niel, wat ook op die gholfklub se komitee gedien het en ook vir ‘n termyn klubkaptein was, het ‘n hele klomp interessante dinge ervaar in gholf – insluitende ‘n paar hoogtepunte op die beroemde ou St Andrews-baan. 

Hierso volg my volledige onderhoud met hom: 


VRAAG:  Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy? 

HOOGENHOUT:  Tydens my laerskooldae het ek gereeld my pa se gholfkarretjie getrek wanneer hy gaan speel het en het so ekstra sakgeld verdien.


VRAAG:   Jy het gholf gespeel toe jy op Paul Roos was - wie was jou skoolmaats wat ook gholf gespeel het, en het julle onderlinge kompetisies met mekaar gehad? 

HOOGENHOUT:  Ek was seker so 13 jaar oud toe ek self begin speel het. Van die eerste maats wat ek nog kan onthou was Johan Heunis (ek dink sy pa was ’n apteker op Stellenbosch) en natuurlik ook Hugo Heunis (ek dink ’n neef van Johan) en oorlede Charl Bergh. In Paul Roos  se koshuis was ’n gereelde maat Ian Muller en later ook sy broer Charles. In daardie dae was die WP Gholfstigting (“WP Golf Foundation”) baie bedrywig en die Gholfstigting (wat deur mnr. Vernon Dickson georganiseer is) het gewoonlik in die skoolvakansies toernooie vir skoolkinders gehou. Ek het in die beginjare gereeld daar gespeel maar later was die standaard bietjie bo my vermoë! In daardie dae was daar min skoliere by Paul Roos wat gholf gespeel het en ek vermoed ek was die eerste leerder in Paul Roos wat volkleure vir gholf gekry het (deesdae moet ’n leerder minstens provinsiaal speel om daardie eer te ontvang!)


VRAAG:  Gholfstokke was nie volop beskikbaar in daardie jare nie - hoe het julle stokke in die hande gekry het wat julle gepas het? 

HOOGENHOUT:  Ek kan nie juis onthou waar presies ons stokke gekry het nie maar ek onthou my pa het op ’n stadium vir my nuwe stokke gekoop wat deur die plaaslike beroepspeler (“Club Pro”) bestel is.

VRAAG:   Wat het jou aangetrek tot die spel gholf? 

HOOGENHOUT:  Ek weet nie eintlik nie. Dit was die enigste sport wat my pa beoefen het en dit was iets wat ek en hy saam kon geniet, wat ons veral baie tydens vakansies gedoen het.


VRAAG:  Wanneer het jy aangesluit by die Stellenbosch-gholfklub? 

HOOGENHOUT:  Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek onthou dat ons as skoliere wel ’n soort lidmaatskap gehad het maar ons kon net gedurende die week speel. Toe ek ’n voorgee begin kry het, wou my pa gehad het dat ek op Saterdae saam met hom in die kompetisies kon speel en ek vermoed dat hy vir my toe laat aansluit het. Sover my kennis strek was ek die eerste skolier wat in die klub se kompetisies gespeel het by Stellenbosch. Op universiteit was ek ’n studentelid, maar na my studies voltooi is in 1977 het ek vir ’n tyd lank grotendeels opgehou gholf speel en nie my lidmaatskap by Stellenbosch volhou nie. Ek het wel my plattelandse lidmaatskap (“country membership”) by Hermanus volgehou en is vandag nog ’n lid daar. Ons het vir jare in die suidelike voorstede van Kaapstad gewoon en ek het net by geleentheid en vakansies in Hermanus gholf gespeel totdat ons  ongeveer in 1985 na Welgemoed verhuis het en daar het ek weer by die Bellville-gholfklub aangesluit en gereeld begin speel. Ongeveer 1990 het ons weer na Stellenbosch terug verhuis en het ek weer by die Stellenbosch-gholfklub aangesluit


VRAAG:  Watter eienskappe van die Stellenbosch-baan meen jy speel 'n groot rol dat die baan deur spelers geniet word? 

HOOGENHOUT: Die grootste pluspunt is die baie goeie speeloppervlak van die baan. Ek onthou die baan in my skooldae met baie meer bome, maar die speeloppervlak was nog nooit so goed soos nou nie. Baie bome het natuurlik al omgewaai of doodgegaan en dit gaan nog ’n paar jaar neem vir die nuutgeplante bome om volgroei te raak. Die aangename atmosfeer in die klubhuis is ook ’n aantrekking vir lede en besoekers. 

VRAAG:  Wat is die laagste bruto telling wat jy al op Stellenbosch gespeel het? 

HOOGENHOUT:  Ek is nie seker nie maar ek dink dit was so 78, maar dit was baie jare gelede!!

VRAAG:  Het jy al 'n kolhou behaal? 

HOOGENHOUT:  Ek was baie gelukkig om al drie kolhoue te behaal het: die eerste was kort na ek op 14-jarige ouderdom in die Saterdag-kompetisies begin speel het op die ou 15de putjie met ’n 4-hout. Gelukkig was my pa by om die rondte drankies te betaal! Daarna nog twee, albei op die 13de putjie.

VRAAG:   Wat is jou huidige voorgee? 

HOOGENHOUT:  My voorgee indeks is tans 16.4


VRAAG:  Wat is jou laagste voorgee ooit? 

HOOGENHOUT:  As ek reg onthou was dit vir ’n kort tyd lank gelede 9.

VRAAG:  Watter putjie op die eerste 9 putjies bied vir jou die grootste uitdaging?  En watter putjie daag jou die meeste uit op die tweede 9? 

HOOGENHOUT:  Die 6de putjie is ’n puik syfer 4 maar deesdae sukkel ek om die setperk te haal vir 2.  Die 18de bly vir my ’n uitdagende laaste putjie.

VRAAG:   Watter ander gholfbane (buiten Stellenbosch) het die grootste indruk op jou gehad? 

HOOGENHOUT: Leopard Creek en Hermanus geniet ek baie en dan natuurlik van die bane in Skotland wat ek die voorreg gehad om te speel. Om die Meesters-toernooi op die Augusta-buiteklub in die VSA te kon besoek is natuurlik ’n besondere voorreg en mens kan nie anders as om stom geslaan te wees met alle aspekte van daardie baan nie. Ongelukkig nog nie daar gespeel nie.

VRAAG:  Jy het 'n keer of wat in die Alfred Dunhill Links-toernooi in Skotland gespeel - vertel ons van jou ervaringe daar? 

HOOGENHOUT: Ja, ek het in die beginjare van die Alfred Dunhill Links-toernooi die wonderlike voorreg gehad om daar te speel en kan omtrent die leser lank verveel met staaltjies. Kom ek vertel net van twee: 

In die toernooi van 2003 het ek op die derde dag op die Old Course St Andrews my heel beste rondte gholf ooit gespeel: Na ’n voëltjie op 9de het ek een onder syfer gedraai en na nog ’n voëltjie op 11de was ek 2 onder. Daarna ’n paar houe laat val en ook nie altyd uitgeset nie (die reëls van die toernooi bepaal dat as die amateur nie kan verbeter op die beroepspeler se telling nie hy sy bal moet optel) maar ek reken ek het op 74 die rondte voltooi. Slegs 2 oor baansyfer!  Ek dink my voorgee was toe so 14. My beroepspeler was Marcus Brier van Oostenryk wie se telling daardie dag 69 was en ons beterbal-telling was 62. 

In die toernooi van 2009 weer op die derde dag op die Old Course St Andrews op die beroemde 17de “Road hole” het ek, teen die aanbeveling van my joggie, na ’n dryfhou sover links dat ek amper op die 2de skoonveld was, my tweede met ’n 6 yster tot net op die begin van die setperk geslaan, sowat 20 meter van putjie. Die joggie se aanbeveling was om ’n voet links van die putjie te mik. My beroepspeler (Ashley Hall van Australië) het eerste geset van net verder as my bal en nadat ek na sy lyn gekyk het, besluit ek om ’n voet regs te mik en daar sink ek die set vir ’n voëltjie! Dit was op die TV uitsending en Rupert Bosch het dit vir my opgeneem en ek het nog nie DVD. My kinders het dit ook op You Tube gesit (soek vir “the perfect putt”). Riaan Gerber het daarna ’n kort artikel hieroor vir Die Burger geskryf — dit is geraam en hang in huis op Leopard Creek.  


VRAAG:  Jy het ook gedien op die komitee van die Stellenbosch-gholfklub asook as klubkaptein.  Wat was jou grootste uitdagings in jou termyn as klubkaptein? 

HOOGENHOUT:  Die grootste uitdaging was die finansiële volhoubaarheid van die klub as ’n onderneming: om die beste diens aan lede en besoekers te lewer teen ’n billike koste. Die oortrokke bankrekening was ’n groot kommer en dan was daar nog skuld agv die finansiering van toerusting: albei wat nie lekker inpas by ’n klub omgewing nie.

VRAAG:  Watter hoogtepunte staan uit gedurende jou termyn as klubkaptein? 

HOOGENHOUT: By nadere ondersoek was die oortrokke bankrekening net ’n probleem in die wintermaande. Die jaarlikse ledegelde het hoofsaaklik in Januarie aan die begin van die finansiële jaar ingekom en dit het saamgeval met die inkomste verdien van buitelandse besoekers.  So in die somermaande was daar kontant in die bank en die winter was die bankrekening oortrokke. Ons het toe die Klub se finansiële jaareinde verander na 30 Julie met die gevolg dat die meeste ledegelde in die winter ingevorder word en daar is dus ’n meer egalige verspreiding in die kontant invloei. 

Ons het ook gekyk waar ons uitgawes kan besnoei en noukeurig gekyk na die effek van die uitkontraktering van die winkel, oefenbaan en karretjies asook die kombuis. Gelukkig het die beroepspeler se kontrak op daardie stadium uitgeloop en ons het dit nie weer hernu nie en die winkel, oefenbaan en karretjies “in-huis” geneem wat ook die invordering van die baanfooie ingesluit het. Dit het baie gou geblyk ’n goeie “wins-sentrum” te wees en het ’n  mooi bydrae tot die klub se finansies gemaak. Die kombuis het bietjie langer geneem om ’n bydrae te maak maar ek is oortuig dit was ook die regte besluit om dit nie weer uit te kontrakteer nie.


VRAAG:  Watter perspektiewe het jy gekry oor die bedryf van gholf gedurende jou termyn as klubkaptein en komiteelid? 

HOOGENHOUT:  Die omset van die gholfklub is sodanig dat dit nie meer ’n klein besigheid is nie. Dit kan alleenlik behoorlik bestuur word indien die regte professionele bestuur aangestel word.


VRAAG:  Almal wat lank gholf speel het gewoonlik tawwe teenstanders ""raak geloop" wat as kombinasies moeilik geklop word?  Wie is die manne op Stellenbosch wat jy altyd as "tawwe teenstanders" ervaar? 

HOOGENHOUT:  Edwin Hertzog en Tienie Hendriksz is moeilike teenstanders om te klop en ek speel eerder saam met hulle as teen hulle.

VRAAG:  Wat beteken die spel gholf vir jou as mens? 

HOOGENHOUT:  Gholf hou ’n mens nederig: Net soos jy dink jy het die spel bemeester dan bring hy jou weer terug aarde toe!