In die skroewe – deur Riaan Gerber

Een van die beste amateurs wat die afgelope jare vir die Boland gespeel het, is die Vrystaat-boorling Bianca Wernich. Nadat sy met groot sukses as amateur gespeel het, het Bianca besluit om haar PGA-sertifikaat te verwerf en sy doen dit by die Stellenbosch-klub. Sy is ook knap met die aanbied van die prysuitdeling-aankondigings by die klub.  Hierso volg my onderhoud met haar.

VRAAG:  Waar was jy op skool en watter sportsoorte het jy op skool gespeel?

WERNICH: Ek was ’n leerling aan die Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein. My sportsoorte op hoërskool was hokkie, atletiek en duik, en ek het Vrystaat-kleure in al drie sportsoorte behaal. 

VRAAG:  Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy toe?

WERNICH: My pa was ’n geesdriftige gholfspeler en ek was van kleins af baie nuuskierig oor die sport wat my pa gespeel het.  Ek het ’n paar keer saam my pa op klein dorpies se bane gaan speel en het vinnig besef dit is ’n sport waarin ek goed kan doen.  Ek het ook op laerskool vir ’n klompie gholf-lesse gegaan, maar al die sportsoorte wat ek gedoen het op hoërskool het my so besig gehou (asook die koshuislewe), dat dit gemaak het dat my gholf tot ’n stilstand gekom het. Al gholf wat ek in daardie jare gespeel het, was wanneer ek op die plaas was.  Dan het ek vir ure ge-“chip’’ vanaf die een watersproei-kop tot die ander watersproei-kop!  In graad 10 het ek weer vir ’n paar lesse gegaan, maar my ernstige gholf het eers na skool begin. 

VRAAG:  Watter aspek van gholf het jou aangetrek tot die sportsoort?

WERNICH:  Ek sal nie sê daar was iets spesifieks wat my aangetrek het nie. Ek was net lief vir die sport en het later geweet dat dit al was wat ek heeldag wou doen.

VRAAG:  Het jy jouself geleer aan die begin?

WERNICH:  My pa het my gewys hoe om die stok vas te hou, maar verder het hy my gelos om my eie kop te volg. Hy sê altyd dit was vir hom iets besonders hoe ek net die stok eendag opgetel het en geweet het wat om met dit te doen.

VRAAG:  Watter afdeling van die spel gholf het jy as beginner maklik gevind en watter afdeling was die moeilikste vir jou?

WERNICH:  Ek het nog altyd van chipping gehou en ek dink dit was omdat ek altyd in die tuin net kort afstande gehad het om te speel. Ek sal sê ’n drywer was vir my die moeilikste omdat ek gewoond was om net met ’n 5-hout te speel.

VRAAG: Kan jy nog die naam onthou van jou eerste stel gholfstokke waarmee jy gespeel het?

WERNICH:  My eerste stel stokke was ’n groen Little Tiger-stelletjie.

VRAAG:  Hoe het dit gekom dat jy oorweeg het om gholf jou beroep te maak?

WERNICH: Ek het in graad 11 my heel eerste 18 putjies gespeel op Oubaai saam met Dirk Els. Ek het 85 houe daardie dag gespeel en na die ronde het hy my gemotiveer om aan te hou met gholf en dit as ’n beroep te sien.

VRAAG:  Wat was jou eerste voorgee in gholf en hoe gou het jy ’n enkelsyfer-speler geraak?

WERNICH:  My heel eerste voorgee was ’n 14 en nege maande daarna was ek ’n 1-voorgee.

VRAAG:  Wat was die eerste gholfklub waar jy lid was?

WERNICH: Bloemfontein-gholfklub.

VRAAG:  Vertel ons van jou hoogtepunte as gholfspeler voordat jy besluit het om jou PGA-kwalifikasie te verwerf.  

WERNICH:  Ek het in 2015 vir die eerste keer provinsiale gholf gespeel toe ek die Vrystaat-span verteenwoordig het. Twee jaar later het ek Kaap toe getrek en vir die Boland gespeel. Ek het verskeie kere top 10-plekke behaal in provinsiale ope-toernooie en was ook ’n keer of wat onder die top-5.


VRAAG:  Jy het ook ’n paar keer in die SA Ope toernooi vir vroue gespeel.  Dit was sekerlik ’n groot ervaring vir jou?

WERNICH: Om deel te kon wees van ’n toernooi soos die SA Ope op die Sonskynreeks was ’n ongelooflike ervaring. Dit was ’n eer om as ’n amateur saam met die beroepspelers te kon speel.  Ek het definitief baie geleer en besef dat die spel gholf heelwat meer is as net ’n speler se fisieke vermoëns.

VRAAG:  Wat was die beste posisie wat jy op GolfRSA se ranglys was?

WERNICH: Ek is nie seker nie, maar meen dit was so 15de.

VRAAG: Wat het jou laat besluit om jou PGA-kwalifikasie te verwerf en geniet jy om dit te doen by die Stellenbosch-klub?

WERNICH: Ek het nie na skool studeer nie, maar dadelik in my gholf-loopbaan beweeg. Deur die jare van slegs gholf oefen en kompeteer, het ek besef dat die druk van sukses my ongelukkig maak en het besluit om die spel in diepte te studeer deur die PGA sodat ek die spel beter kan verstaan. Ek dink nie daar is ’n beter plek as Stellenbosch waar ek my PGA-kwalifikasie kon doen nie. Ek glo dat die Stellenbosch-klub my die beste geleentheid gebied het om al die verskillende aspekte van die industrie te leer ken.

VRAAG:   Wie is jou mentor by die Stellenbosch-klub rakende jou kursus?

WERNICH: My mentor en leier vir die PGA-kursus is Louis Destroo. Sy kennis oor die spel is ongelooflik en ek is dankbaar dat ek onder hom kan leer. Ek sien uit na alles wat ek nog vorentoe in my loopbaan gaan bereik danksy ’n leier soos hy.


VRAAG:  Jy speel nog goeie gholf en was 2de onder die vroue tydens verlede jaar se PGA Kwalifiserende toernooi op die Kyalami-baan.  Jy het sekerlik nie meer so baie tyd om gholf te speel nie - so hoe sorg jy dat jou spel nog skerp is?

WERNICH:  Dit is moeilik tussen die werk en afrigting om tyd te maak om aan my eie spel te werk. Ek het twee weke voor die Kyalami-toernooi met Erich Kliem begin werk aan my swaai. Elke keer as dit stil is en ek ’n kansie kry gaan ek na Erich toe vir ’n paar minute net dat hy kyk of ek nog doen wat hy my geleer het. Ek sal ook ’n paar balle slaan of chip wanneer ek vir ’n gholf-klient op die oefenbof wag. 

VRAAG:  Wat is jou gemiddelde swaaispoed?

WERNICH: My swaaispoed is 100 mph.

VRAAG:  Geniet jy dit om gholf af te rig?

WERNICH:  Baie. Dit is ’n ongelooflike gevoel om iemand te kan help. 

VRAAG:  Wat is die mees algemene foute wat jy opmerk onder vroue-spelers wat by jou aanklop vir lesse?

WERNICH: Dat vroue beslis te veel gholf-raad van hul mans hoor. Ek weet dat die meeste mans net hulle vrouens wil help wanneer hulle sukkel, maar dit maak die leerproses baie moeiliker vir ’n beginner as sy verskillende goed by verskillende mense hoor.

VRAAG:  Wat is die vroue se mees algemene rede hoekom hulle na jou kom vir lesse?

WERNICH: Hulle sukkel met hul lang spel.

VRAAG:  Almal in gholf soek meer afstand vanaf die bof.   Wat kan vroue in die algemeen doen om meer afstand te kry met hul houe?

WERNICH: Tegnologie speel definitief ’n groot rol rakende meer afstand in gholf – daarom is dit belangrik dat spelers met stokke speel wat hulle die beste resultate sal gee. As die probleem nie by die tegnologie lê nie dan is my raad om te werk aan jou swaaispoed. Hoe vinniger die persoon beide hulle ligaam en hande kan roteer, hoe vinniger die spoed van die stok.

VRAAG:  Jy hanteer deesdae die prysuitdelings by die klub met hope selfvertroue – het die senuwees maar geknaag toe jy dit die eerste kere moes doen?

WERNICH: Beslis, ek praat maklik voor mense maar as ek spesifieke woorde moet volg dan raak ek soms op my senuwees.

VRAAG:  Jou laagste telling ooit as gholfspeler?

WERNICH: My beste rondte was vier onder baansyfer (68) wat ek behaal het by die Stellenbosch-klub.

VRAAG:  Jou laagste voorgee ooit?

WERNICH: My laagste voorgee was ’n +2.

VRAAG:  Jou huidige voorgee?

WERNICH: Ek speel tans vanaf ’n 0-voorgee af. 

VRAAG:  Wat beteken gholf as mens vir jou?

WERNICH: Gholf het my baie in die lewe geleer. Dit het my geleer hoe om geduldig te wees, en om nooit op te gee nie. Dit het my geleer hoe om saghartig teenoor ander te wees en nooit neer te kyk op iemand wat sukkel nie. Gholf het my siening op die lewe verander. Gholf was altyd alles vir my gewees tot ek besef het dat ek alles vir gholf wou wees, nie net wou ek speel nie maar wou ook ’n verskil in iemand se lewe maak deur gholf.

AlertifyJS

By clicking “Accept All Cookies”, you agree to the storing of cookies on your device to enhance site navigation, analyze site usage, and assist in our marketing efforts.